Caroline Grace

Jy sal dalk vir Caroline-Grace Brüssow onthou van The Voice SA 2017, waar sy dit tot in die top vier gemaak het. Die Bloemfontein-gebore sangeres het groot sukses met haar liedjie Ek Bid vir Jou, ’n ode aan haar rugbyspeler-man Heinrich Brüssow.

Caroline-Grace het as danser begin, en nadat sy haar LLB van die Universiteit van die Vrystaat behaal het, het sy besluit om deel te neem aan The Voice SA. Caroline Grace is vinnig deur Universal Music genader en het ’n week ná die eindstryd van The Voice haar debuut-album opgeneem.

Ricus Nel

Ricus Nel is een van ons land se bekendste kunstenaars wat die Suid-Afrikaanse country-musiekplatform aan die brand het. Sy goue stem en pragtige liedjies sorg vir uitmuntende vermaak wat nie teleurstel nie. Hy is ook gelukkig getroud met die sangeres en aktrise, Liza Bronner.

Sy debuut-album wat in 2011 vrygestel is - Sak en pak - het sy naam behoorlik in die musiekbedryf laat groei. Ricus spog ook met ’n hele paar treffers van die welbekende Worsie Visser waarvan hy sy weergawe gesing het.

Early B

In 2012 het Port Elizabeth reeds een van sy beste solo-rap-kunstenaars ontdek. Early B, die 28-jarige Ghoema-toekenning-rymkletser, het sy plek in die musiekbedryf as solo-kunstenaar uitgekerf met musiek wat hom tot nasionale en internasionale vlakke gebring het.

Vir die kunste is Early B ook ’n akteur en het hy met ’n film- en televisieproduksie-diploma gegradueer. Hy het in die plaaslik vervaardigde reeks Hotel Songololo gespeel en het in verhoogproduksies op die Grahamstadse Kunstefees opgetree. Hy het sy eie voetspore geskep waarin baie ander aspirant-kunstenaars volg en het reeds verskeie struikelblokke met sy musiek gebreek.

Dennis East

Dennis East, ’n Suid-Afrikaanse liedjieskrywer en musiekvervaardiger, is oorspronklik van Pietermaritzburg. Hy het sy musiekloopbaan in die laat 1960’s begin. Hy het in 1979 met die Rising Sons opgetree en in dieselfde jaar ook met die rockgroep Stingray saam met ander Suid-Afrikaanse musikante opgetree.

Hy werk as liedjieskrywer en het ook musikale albums vir Suid-Afrikaanse kunstenaars vervaardig. Hy was aanbieder van verskeie TV-programme, waaronder Pump Up The Volume, Coca Cola Pop Stars en Popstars 2010.

Chereé

Op die ouderdom van 30 het Chereé haarself tuis gemaak in die SA musiekbedryf en daar is geen twyfel dat hierdie Kapenaar hier is om te bly nie. Sedert sy die Afrikaanse musiekmark in 2001 betree het, gaan haar loopbaan van krag tot krag. Hierdie talentvolle sanger tree deesdae by verskeie groot konserte op en is ook te sien in van ons land se top publikasies. ’n Groot voorreg het Chereé te beurt geval toe sy genooi is om deel te wees van die 2010 SAMA-skouspel by Sun City. Die hoogtepunt hiervan was gewis haar huldeblyk aan Carike Keuzenkamp, wat vereer is met ’n toekenning vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek.

Sy woon saam met haar man, Wynand Strydom, op Langebaan aan die Weskus van Suid-Afrika. Wynand is ook ’n sanger in die Afrikaanse musiekbedryf en hulle maak gereeld saam musiek. Hulle is die trotse ouers van twee dogters, Taylor-Hope en Bella-Joy.

Appel

Appel (gebore Christoph Kotzé) is ’n Afrikaanse sanger en liedjieskrywer van Brits in die Noordwes. Hy werk as liedjieskrywer by die musiekproduksiemaatskappy Inhoud Huis. Sy treffer Boer loop deur my are het in 2018 op die top 20 van Maroela Media verskyn.

Appel is ook baie bekend vir sy humoristiese liedjie Lemoene wat mense by vertonings behoorlik op hul voete hou.

Ivan Roux

Naaswenner van Die Kontrak, Ivan Roux, het al die verhoog gedeel met meeste van ons land se grootste kunstenaars waaronder Bobby en Karlien van Jaarsveld, Riana Nel, Refentse, Jack Parow, Francois van Coke, Kahn Morbee en Juanita du Plessis.

Met sy kitaar en ongelooflike stem is Ivan se vertonings energiek en opgewek en sal hy beslis enige gehoor bekoor. Ivan is ’n ambassadeur vir Project Brave Heart - “where the heart is free to change” (Anti Bullying Campaign).

Tarryn Lamb

Die pragtige Tarryn Lamb het grootgeword in Ocean View, Kaapstad. Sy is ’n nagraadse student aan die Waterfront-teaterskool en is ook ’n liedjieskrywer van sewe nasionale musiektreffers. Sy was ook deel van die Suid-Afrikaanse SAMA-bekroonde band BlackByrd en het ook die musiekopening behartig vir die internasionale groep Mike and the Mechanics, Patrizio Buanne en Jamiroquai.

Tarryn se debuutalbum, Mal Oor Jou, het op Donderdag, 14 Maart ’n goue toekenning ontvang tydens die Afrikaans is Groot konserte in Kaapstad.

Jay

Jaco du Plessis oftewel Jay soos hy meer algemeen bekend staan, is ’n baie gewilde Afrikaanse sanger. Popmusiek gaan oor innemende en melodieuse storievertelling - ’n spasie waarin Jay tuis voel en beïndruk.

Hy is al vyf sterk jare in die solo-veld en sy nuutste en tweede solo-album, #DisHoeOnsRol, het stilweg en selfversekerd kort ná uitreiking platinumstatus behaal vir verkope van meer as 40 000 eenhede. Jay se derde solo-album - So Lank Sal Ek Jou Liefhê - is ook nou beskikbaar by al die goeie musiekwinkels.

Bok van Blerk

Bok is op 30 Maart 1978 in Pretoria gebore en het na skool boukunde en konstruksiebestuur gestudeer voordat hy vir sewe jaar lank in die boubedryf gewerk het. Maar die passie om musiek te maak het hom voortdurend daaraan herinner dat hy iets anders wil doen en in 2005 het Bok bouwerk van ’n ander aard aangepak deurdat hy as professionele musikant aan sy bewonderaarsbasis begin bou het.

Vier albums en ’n hele rits toekennings later, is Bok een van die land se mees herkenbare stemme en gesigte in die vermaakwêreld, veral nadat hy oor die laaste drie jaar ook gereeld in Suid-Afrikaanse films te siene was.

Tommy Dell

Tommy Dell bekend as “The Killer”, verteenwoordig SA in Nashville VSA in die 80’s. Hy het goue en platinum albums en is bekend vir sy lewendige optrede op die verhoog. Tans bied hy die ontbytprogram op Helderberg 95.9 FM aan.

Jy kan nie help om hierdie kunstenaar te geniet met liedjies soos The Gambler, Blueberry Hill en Ek kan nie ophou om jou lief te hê nie.

Sunset Sweatshop

Sunset Sweatshop is ’n vyfstuk-popgroep wat ontstaan het in Bellville, Kaapstad. Hul musiek het ’n unieke kombinasie wat seker maak dat jy heeltyd op jou voete bly. Hul debuutalbum Chasing Gold is in 2018 vrygestel.

Sunset Sweatshop het in Oktober 2016 ontstaan toe die hoofsanger Ian Heyns (Good Luck Johnny) saam met kitaarspeler Rossouw Wentzel begin werk het. Nie lank daarna nie het baskitaarspeler Richard Dicks (Good Luck Johnny, Cherry Vynil), kitaarspeler Nicholas Forbes (The Ballistics, Cherry Vynil) en dromspeler Victor Green (Ryno Velvet, De Wallen) by hulle aangesluit.

Dobbelsteun

Dobbelsteun is op 3 Augustus 2013 gebore. Dit het begin met hul hoofkitaarspeler wat op soek was na ’n paar musikante om by ’n gig te speel. Mense het gekom en gegaan soos die tyd verloop het, tot die laaste week van Junie 2013 toe die bestaande lede bymekaar gekom het en die eerste lied beoefen het. Die atmosfeer was reg en die ouens was opgewonde. Daardie week was die eerste van baie laataand oefeninge wat vir Dobbelsteun sou voorlê.

Dobbelsteun tree op by troues, verjaarsdae, feeste- en te meer. Hulle skryf hul eie musiek en probeer om die omslag liedjies so oorspronklik moontlik te maak met die draai van dieDobbelsteun-styl.

Wynand en Chereé

Wynand & Chereé, die getroude sangpaartjie, het afsonderlik al tientalle treffers gehad en saam het hulle al meer as 100 000 eenhede verkoop!

Daar is dus meer as ’n 100 000 redes vir hulle om kragte saam te span om sodoende ’n wyer gehoor te tref.

Jan Bloukaas

Nadat sy Kaas Elke Dag byna oornag ’n musieksensasie geword het, word Jan Bloukaas net groter en beter.

Jan Bloukaas se musiek is vol humor, vernuwend, vars en vermaaklik. Met sy nuwe album, Lewe, en nuutste vrystelling, Desember, gaan hy nie net die musiekwêreld op sy kop draai en die jonger generasies gaande hê nie, maar ook vir homself ’n permanente plek in die Afrikaans musiekbedryf vestig.

Rinus Goosen

Rinus Goosen, gebore 1990 in die hartjie van Namaqualand, Springbok. Grootgeword tussen trek klaviere en konsertinas, dis waar my passie vir musiek gebore was.

Op die ouderdom van 12 het ek my eerste ATKV sang kompetisie gewen, en dis waar ek besluit het om my droom te volg.

Dawid Sadie

Dawid Sadie is van die platteland en het op die ouderdom van tien jaar die kitaar opgetel. Oorsese musikante soos Nickelback en ACDC was sy eerste inspirasies. Dit het gelei tot sy belangstelling in rock ’n roll. Later het klassieke musiek en film-temamusiek hom verder aangespoor.

Op die ouderdom van 15 het hy by funksies en feeste begin optree. Dawid skryf sy eie musiek en stel dit op sosiale media bekend. Hy vertolk bekende liedjies maar sing ook oorspronklikes in Afrikaans en Engels. Die liedjies wat hy by Madeliefie Makietie gaan sing, is gekies om die skare se voete te laat wikkel, maar ook te laat wonder oor dieper dinge. Luister en geniet.

Jaco Losgelaat

Jaco Losgelaat is ’n bekende kunstenaar van die Kaap en is al goed gevestig in die musiekbedryf. Met sy energieke jong voorkoms gee hy vir die laaste tien jaar kleur aan enige fees, funksie of partytjie!

Hy het reeds gehore regoor die Wes-Kaap vermaak, met vertonings by die KKNK, Hermanus Walvisfees, Kraaifontein Gesinsfees, Bakgat Môreson Plaasfees en Winter Wonderland, om maar net ’n paar op te noem, en het al skouers geskuur met ’n paar van ons land se groot kunstenaars! ​Sy eerste amptelike musiekvideo Verlang Jy? is pas op YouTube uitgereik en is ook op kykNET Nou! te sien. Sy debuutalbum, Hierdie Song, is nou beskikbaar.​

Johan Myburgh

Johan Myburgh het een en twintig jaar gelede vir die eerste keer ’n mikrofoon opgetel en by vriende liedjies begin sing. Van daardie dag het hy besef dat musiek sy asemhaling is.

Hy het saam met Hesté ’n demo CD gemaak en ’n rukkie later met sy volledige CD begin. “Ek glo my verhaal is die storie van baie kunstenaars wat aanhou om hul passie uit te leef en te strewe na voortreflikheid totdat die wêreld vir hulle gereed is.”

KayCee

KayCee is ’n solo-sanger van Kaapstad. KayCee het op die ouderdom van vyf begin met sanglesse en het oor die jare talle sangkompetisies gewen. Haar eerste betaalde optrede was in 2008, waarna sy by verskillende feeste en geleenthede opgetree het.

KayCee het die musiekbedryf in Julie 2016 as voltydse sanger betree toe sy haar eerste enkelsnit vrygestel het. Met haar pragtige stem en lieflike geaardheid wen KayCee mense se harte waar sy ookal optree.