Vanjaar is Madeliefie Makietie se hoofverhoog-vertoning op Saterdag, 27 Oktober, ’n volle verhoogproduksie met van Suid-Afrika se voorste kunstenaars om díe eerste vir die streek moontlik te maak.

2018 Kunstenaars

Snotkop

Snotkop se sewende treffer-album HKGK het goue status bereik in minder as drie maande sedert sy vrystelling. Hy is ongetwyfeld een van die land se gewildste kunstenaars wat duisende mense se harte gesteel het met sy talent, aansteeklike musiek, passie en onkeerbare energie.

Snotkop is vanjaar tien jaar in die Afrikaanse musiekbedryf en sy treffer-album HKGK het die dansvloere aan die brand!

Majozi

Majozi is ’n trots Suid-Afrikaanse kunstenaar van Durban en sing sy eie eerlike, opregte liedjies. Sy ma en Jesus is die twee grootste invloede op sy lewe en dus het hy tatoeërmerke van beide, aangesien hulle ook as inspirasie vir sy musiek dien.

Hy het reeds op dertien leer kitaar speel en beskryf sy styl as ‘Indie-folk’ met subtiele elektro-invloede.

Karlien van Jaarsveld

Karlien van Jaarsveld is ’n bekende gesig op die Afrikaanse musiektoneel. Haar nuwe album, ‘Sing vir Liefde’, is in April verlede jaar gelede uitgereik en het gou die 15 000-verkopemerk verbygesteek om goue status te verwerf.

Karlien en haar man, Joe Breytenbach, het in 2017 haar tweede dogtertjie, Elah, in die wêreld verwelkom, tog is sy steeds volstoom aan die gang met optredes.

Jo Black

Jo Black is in Pretoria gebore en het daar sy eie konstruksiemaatskappy gehad, waar hy alles van brûe tot hospitale gebou het. Met sy Be That Guy- en Be That Girl-veldtogte,

wat Suid-Afrikaners aangemoedig het om die beste weergawe van hulself te wees, het hy gou roem verwerf en vandag skryf Joe liedjies en toer die land plat om sy boodskap aan gehore oor te dra.

Leah

Leah is gebore en getoë in Bellville in Kaapstad se noordelike voorstede. Sy het ’n B.Com (Regte) agter haar naam, opleiding aan die Waterfront Teaterskool en het grootgeword in ’n huis gevul met deuntjies van haar pa se keuse.

Ná inskrywings aan ’n magdom musiekkompetisies, met TV-advertensiewerk tussen in, het Leah se groot deurbraak gekom in die vorm van modelwerk: sy is raakgesien in 2011 in Rapport se Model van die Jaar-kompetisie wat sy ook gewen het.

Lee Scott

Mens vind dit moeilik om Lee Scott se musiekstyl in woorde te beskryf. Bietjie pop, ander kan sê dis Blues en Swing asook ’n bietjie rock. Hy laat dit dus vir sy gehoor om self te besluit.

Lee Scott het ’n naam vir homself in die musiekbedryf gemaak en beloof om ’n kunstenaar te wees waarmee rekening gehou moet word! Wanneer hierdie jongman op die verhoog verskyn en begin sing, kom sy kragtige en groot stem tot volle reg.

Willem Botha

Die vermaaklikheidsbedryf het met rasse skrede gegroei die dag toe Willem Botha sy toetrede gemaak het. In 2006 soengroet hy Idols-aanhangers en intussen het hy tienduisende van sy eie bewonderaars bygekry met drie bekroonde albums en groot film-, teater- en TV-rolle agter sy naam.

Op 28 is meeste jmense tevrede met ’n vaste werk. Op dié ouderdom het Willem pas teruggekeer van Europa waar hy aan die Eurovision-sangkompetisie deelgeneem het.

Dirk van der Westhuizen

Vir Dirk van der Westhuizen is die verhoog geen nuwe ervaring nie - die lewenslustige jong man sing en skryf al van die ouderdom van 12 jaar en het van jongs af geweet die verhoog is sy tuiste.

Dirk is gebore op 21 Mei 1990 in Pretoria en het in 2009 voltyds begin om sy merk te maak in die Afrikaanse musiekbedryf.

Irene-Louise Van Wyk

Hierdie lewenslustige blondine het tussen musikante grootgeword en vanjaar is haar derde jaar in die bedryf. Nie net het sy al saam met van die land se voorste kunstenaars, soos Nianell, Early B en Elvis Se Seun gewerk nie, maar van haar treffers, soos Meer as Woorde het ook verskeie weke bo aan die treffersparades van talle radiostasies gekuier.

Sy het met haar debuutalbum dit reggekry om vir haarself ’n amptelike plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te vestig - nie net as sanger nie, maar ook as verhoogkunstenaar en liedjieskrywer.

Juan Boucher

Die bekroonde sanger Juan Boucher spog met sy sesde album - Onthou jy om te jonk. Die album bevat elf liedjies, die meeste deur Juan self geskep. Soos altyd toon dié album groei en ontwikkeling. Juan het daarin geslaag om ’n eiesoortige skryfstyl te ontwikkel.

Hy delf filosofies in drome, die liefde, die goeie en die kwade - die lewe: soos dit met hom. Juan Boucher skep kontemporêre musiek wat jou siel vryheid bied: altyd jonk!